3 Nou moet hierdie gelowiges egter nie die fout maak om mekaar te veroordeel oor wat hulle eet of oor wat hulle nie eet nie, want God het plek vir albei van hulle.
4 Wie dink jy is jy dat jy so maklik ’n oordeel uitspreek oor die manier waarop ander mense hulle geloof uitleef? God self sal mos besluit of hulle reg doen of nie. Dit is nie jou werk nie. In elk geval, mense wat in God glo, al doen hulle dit op ’n ander manier as jy, sal gered word. Die Here sal daarvoor sorg.
5 Daar is mense wat sê dat sekere dae heiliger as ander dae is. En daar is mense wat sê dat alle dae presies dieselfde is. Elkeen moet in hierdie geval maar self besluit wat reg is. Wat wel belangrik is, is dat albei van hulle God se eer voorop sal stel.
6 Wat ek bedoel, is dit: as jy besluit om een dag heiliger as ’n ander dag te hou, doen dit dan tot eer van die Here. As jy besluit om alle kos te eet, doen dit tot eer van die Here. Sê vir God dankie daarvoor. As jy egter besluit om sekere soorte kos nie te eet nie omdat dit met jou geloofsbeskouings bots, doen dit ook tot eer van die Here. Sê dan vir God dankie vir daardie kos wat jy wel eet.
7 Onthou, nie een van ons leef of sterf vir onsself nie. Nee, ons almal staan in voltydse diens van die Here.
8 Daarom moet ons voluit vir Hom leef en doodgaan. Letterlik alles wat ons doen, moet tot eer van die Here gedoen word, want ons behoort aan Hom. Dit geld terwyl ons nou nog lewe, maar ook later wanneer ons doodgaan.
9 Dit is tog hoekom Christus gesterf en weer lewendig geword het sodat Hy die Here oor die dooies en die lewendes kan wees.