2 Ons kan nie net daardie dinge doen wat ons gelukkig maak sonder om te vra hoe ander gelowiges daaroor voel nie. Daarom moet ons alles in ons vermoë doen om te sorg dat ander gelowiges ook gelukkig is. Dit is ons plig om hulle geloof sterk te maak en op te bou.
3 Christus het presies dit kom doen toe Hy op aarde was. Hy het nie na sy eie belange omgesien nie, maar na dié van ander. Dit is soos die Bybel sê:“Al die beledigings wat die mense na u kant toe gegooi het, het Ek gedra. Dit het alles op My afgekom.”
4 Alles wat in die Bybel opgeteken is, is neergeskryf om ons te leer. Die Bybel versterk ons geloof en moedig ons aan sodat ons elke dag kan uitsien na die terugkoms van die Here.
5 Mag God, wat ons almal se geloof sterk maak en ons krag gee, julle help om regtig goed met mekaar oor die weg te kom. Dit is presies wat Christus Jesus wil hê.
6 Mag julle almal saam soos ’n groot koor in ’n harmonie van stemme God se Naam grootmaak. Aan Hom, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe.
7 Julle moet mekaar asseblief aanvaar. Onthou: Christus het julle almal met oop arms aanvaar en op hierdie manier groot eer aan God gebring.
8 Christus het aarde toe gekom om die Jode te dien en om te wys dat God sy woord hou. So het Hy die beloftes wat God aan hulle voorouers gemaak het, waar laat word.