18 Boonop maak jy asof jy presies weet wat reg en verkeerd is omdat jy die wet op die punte van jou vingers ken.
19 Omdat jy so danig belangrik is in jou eie oë, het jy jouself aangestel om mense wat nog in die donker rondlê na die lig toe te lei. Jy dink dat jy net die regte een is om die blindes na God toe te bring.
20 Jy beskou jouself as die groot leermeester van almal wat niks weet nie, as die onderwyser van almal wat nog maar kinders in die geloof is. Jy dink dat jy al die kennis en waarheid in pag het.
21 Maar ek wil jou ’n vraag vra. Jy wat so vinnig is om ander mense te leer hoe hulle moet leef, hoekom doen jy nie ’n slag wat jy leer nie? Jy preek graag vir ander dat hulle nie mag steel nie. Maar wat van jou? Steel jy nie?
22 Jy sê dat ’n mens nie ontrou aan jou huweliksmaat mag wees nie. Wat van jou? Maak jy jou nie skuldig aan ongeoorloofde seksuele verhoudings nie? Jy vertel hoe jy die afgode haat. Maar intussen leef jy net soos daardie spul wat hierdie afgode aanbid.
23 Jy spog graag oor jou groot kennis van die wet. Tog oortree jy dit. So maak jy ’n bespotting van God se goeie Naam.
24 Dit is oor mense soos jy dat die profeet geskryf het: “Julle sondes maak dat ongelowiges allerhande lasterlike dinge oor God sê.”