9 Daar lê ’n bitter moeilike tyd voor vir elkeen wat in sonde leef. Dit geld vir alle mense op aarde, Jode sowel as nie-Jode.
10 Aan die ander kant wag daar ’n wonderlike tyd van vrede op almal wat doen wat God vra. Hy sal hulle met groot eer beklee. Dit geld ook vir alle mense, Jode sowel as nie-Jode.
11 Mense se afkoms maak regtig nie vir God saak wanneer Hy oordeel nie. Hy trek niemand voor nie.
12 As jy God se wet oortree, is die doderyk jou voorland. Uit en gedaan. Dit help nie om te sê dat jy nie aan Israel behoort nie en dat jy nie God se wet ken nie. Hy sal jou ook straf as jy teen sy wil leef. As jy egter aan die volk van Israel behoort en teen God sondig, sal Hy jou veroordeel volgens alles wat in die wet geskryf staan.
13 Moenie dink dat God mense van hulle sondes vryspreek bloot net omdat hulle gereeld na die wet luister nie. Nee, Hy spreek net daardie mense vry wat alles doen wat die wet sê.
14 Mense wat nie aan die volk van Israel behoort nie, is natuurlik nie so gelukkig om God se wet op skrif te hê nie. Wanneer hulle egter doen wat God in sy wet vra, wys hulle mos dat die wet vir almal op aarde geld.
15 Mense het nie altyd ’n wet op papier nodig om te weet wat reg is in God se oë nie. God het dit wat in die wet staan ook in die binneste neergeskryf van mense wat nie aan Israel behoort nie. Daarom worstel hulle ook gedurig in hulle binneste met die groot vraag oor wat reg en verkeerd is.