23 Op dié manier wil Hy wys hoe groot sy goedheid is oor al daardie mense met wie Hy tevrede is. Hulle is die kleipotte op wie die hemelse Pottebakker baie trots is. God het vir hulle ’n plek in sy nuwe wêreld voorberei. Daarom stort Hy sy genade in oorvloed oor hulle uit.
24 God kies gelukkig nie net Jode uit om sy kinders te wees nie. Nee, ook mense uit ander volke word deur Hom geroep om in Hom te glo.
25 Dit is presies net soos God in die profeet Hosea sê: “Vir mense wat nie my volk is nie, sal Ek sê: ‘Julle is nou my volk.’ Vir haar wat geen liefde ken nie, sal Ek sê: ‘Jy is my beminde.’
26 Op plekke waar mense vir hulle gesê het: ‘Julle is nie deel van God se volk nie,’ juis daar sal nou gesê word: ‘Julle is kinders van die lewende God!’”
27 Die profeet Jesaja sê van Israel:“Al is die Israeliete se getalle so baie soos al die seesand, sal daar slegs ’n klein groepie van hulle gered word.
28 Die Here sal sy plan met groot krag hier op aarde laat waar word.”
29 Jesaja het ook op ’n ander plek gesê:“As die Here, die Almagtige, nie vir ons ’n nageslag oorgelaat het wat in Hom bly glo nie, sou ons net soos Sodom geword het, sou ons net soos Gomorra verwoes gewees het.”