1 Amos het die Here se boodskap gebring toe Ussia die koning van Juda in die suide was. Joas se seun Jerobeam was toe koning van Israel in die noorde. Amos het by Tekoa met skape geboer. Twee jaar voor die groot aardbewing het die Here hom ’n gesig oor die Noordryk van Israel laat sien. Hy het so daaroor gepraat:
2 “Die Here brul soos ’n leeu in Sion. Sy stem weergalm deur Jerusalem. Die weivelde vir die diere verdroog. Die gras bo-op Karmel gaan dood.”
3 Die Here sê: “Van al die oortredings van Damaskus is daar spesifiek een ding wat hy gedoen het waarvoor Ek hom nie kan vergewe nie. Hy het die mense van Gilead uitgewis. Soos ’n mens met ’n ysterslee graan platsleep, het hy hulle van die aarde af weggevee.
4 My straf sal wees soos vuur wat kom, en die huis van koning Hasael tot op die grond afbrand. Ben-Hadad sit en regeer in sy paleis. Ek sal dit stopsit. Hy sal nie langer koning wees nie.
5 Ek sal die slotte oopbreek waarmee die inwoners van Damaskus die hekke van hulle stad gesluit het. Ek sal almal van Sirië uitroei wat in die laagte van Bikat-Awen bly. Ek sal die leiers van Bet-Eden gryp. Almal wat in Sirië bly, sal gevang en teen hulle sin na Kir toe gevat word.” Dis wat die Here oor Damaskus sê.
6 Die Here sê: “Van al die baie oortredings van Gasa is daar een spesifiek waarvoor Ek hom nie kan vergewe nie. Hy het al die mense wat op een plek bly, gaan vang en hulle almal aan Edom uitgelewer.