4 Die Here sê: “Van al Juda se baie oortredings is daar een spesifiek wat Ek nooit sal oorsien nie. Hulle het die wet van die Here verwerp. Hulle steur hulle glad nie aan die reëls van die Here nie. Dieselfde gode van leuens en bedrog waaragter hulle voorouers aangeloop het, het hulle laat ontspoor.
5 Ek sal ’n vuur wat alles verteer teen Juda aan die brand steek. Dit sal die skuilplekke in Jerusalem verwoes.”
6 Die Here sê: “Die spesifieke oortreding waarvoor Ek Israel nooit sal vergewe nie, is dat hulle eerlike mense vir geld verkoop. Hulle verkoop die arm mense wat nie hulle skuld kan betaal nie vir so min as die prys van ’n paar sandale.
7 Hulle trap dié wat hulpeloos is, nog verder in die grond in. Hulle is onregverdig met dié wat alreeds swaarkry. Hulle bring my groot Naam in die skande. Pa en seun slaap by dieselfde meisie.
8 Hulle lê by die altaar waar daar geoffer word op klere wat hulle van arm mense gevat het. By die Here se tempel drink hulle die wyn waarmee ander mense hulle boete moes betaal.
9 “Dit was Ek wat die Amoriete uit die land uitgewis het voordat my volk hiernatoe gekom het. Die Amoriete was lank en regop soos sederbome. Hulle was so sterk soos akkerbome. Maar Ek het hulle met wortel en tak uitgeroei.
10 “Dit was Ek wat julle uit Egipteland laat wegtrek het. Ek het julle 40 jaar lank in die woestyn laat rondtrek. Ek het vir julle die land van die Amoriete gegee.