5 “Kom bring maar verkeerde offers wat suurdeeg in het. Spog maar oor die offers wat julle uit julle eie vir die Here bring. Julle Israeliete is mos lief daarvoor om so met julle godsdiens te spog,” sê die Here.
6 “In al julle dorpe het Ek gemaak dat daar nie kos is om te eet nie. Ek het gesorg dat daar in al julle blyplekke niks brood is om te eet nie. Maar nogtans het julle nie daaraan gedink om terug te kom en by My kos te kom vra nie,” sê die Here.
7 “Drie maande voor die oes het Ek die reën laat wegbly. Ek het dit by die een dorp laat reën en glad nie by die volgende dorp nie. Die een stuk grond het mooi reën gekry. Die ander een het uitgedroog, omdat dit glad nie daar gereën het nie.
8 Twee-twee en drie-drie het mense van dorp tot dorp gekruip om water te kry. Daar was nie water vir hulle dors nie. Hulle het dors gebly. En al het dit alles gebeur, het julle nie daaraan gedink om na My toe terug te kom en by My water te vra nie,” sê die Here.
9 “Ek het ’n verskriklike warm wind oor julle tuine laat waai. Ek het siektes in julle druiwe laat kom. Sprinkane het julle vyebome en olyfbome kaalgevreet. Ten spyte van dit alles het julle nie na My toe gekom en My gevra om julle te help nie,” sê die Here.
10 “Ek het rampe oor julle laat kom soos daar destyds in Egipte rampe gekom het. Ek het julle jong soldate wat op perde veg, in die oorlog laat omkom. Daar in die kamp het die stank van die goed wat dood was, dit vir julle ondraaglik gemaak. Maar julle het nie eens daaraan gedink om na My toe terug te kom nie,” sê die Here.
11 “Ek het julle dorpe verwoes, soos Ek Sodom en Gomorra van die aarde afgevee het. Party kon nog betyds wegkom, soos ’n stuk hout wat jy betyds uit die vuur uitruk voordat dit heeltemal verbrand. “En al het dit alles gebeur, het julle nie ’n oomblik daaraan gedink om My te kom vra om julle te help nie,” sê die Here.