8 Twee-twee en drie-drie het mense van dorp tot dorp gekruip om water te kry. Daar was nie water vir hulle dors nie. Hulle het dors gebly. En al het dit alles gebeur, het julle nie daaraan gedink om na My toe terug te kom en by My water te vra nie,” sê die Here.
9 “Ek het ’n verskriklike warm wind oor julle tuine laat waai. Ek het siektes in julle druiwe laat kom. Sprinkane het julle vyebome en olyfbome kaalgevreet. Ten spyte van dit alles het julle nie na My toe gekom en My gevra om julle te help nie,” sê die Here.
10 “Ek het rampe oor julle laat kom soos daar destyds in Egipte rampe gekom het. Ek het julle jong soldate wat op perde veg, in die oorlog laat omkom. Daar in die kamp het die stank van die goed wat dood was, dit vir julle ondraaglik gemaak. Maar julle het nie eens daaraan gedink om na My toe terug te kom nie,” sê die Here.
11 “Ek het julle dorpe verwoes, soos Ek Sodom en Gomorra van die aarde afgevee het. Party kon nog betyds wegkom, soos ’n stuk hout wat jy betyds uit die vuur uitruk voordat dit heeltemal verbrand. “En al het dit alles gebeur, het julle nie ’n oomblik daaraan gedink om My te kom vra om julle te help nie,” sê die Here.
12 “Omdat jy jou nie aan My wou steur nie, Israel, moet jy jou regmaak om te hoor wat God oor jou besluit het.
13 Die Here het die berge en die wind gemaak. Hy kan vir mense sê wat Hy wil hê. Hy kan die vroeë lig van die môre net so in donker verander. Hy kan groot treë gee bo-oor die bergtoppe van die wêreld. Sy Naam is: ‘Die Here, die God wat sterker is as enigiets of enigiemand.’”