6 Julle drink wyn uit die bekers wat vir die offers gebruik word. Julle smeer julleself met lekkerruikolie. Maar julle bekommer julle nie ’n oomblik oor die einde van Josef se nasate nie.
7 Daarom sal julle die eerstes wees wat die vyand gaan vang om julle weg te vat na ’n ander land toe. Julle lawaaierige partytjies gaan dan verby wees.
8 Die Here het vir Homself ’n belofte gemaak. Die Here, die God wat sterk is, het vir Homself gesê: “Dit is vir My baie lelik dat Jakob se nageslag so selfvoldaan is. Ek vererg My oor hulle mooi huise. Ek gaan hierdie stad met alles daarbinne vir hulle vyand gee.
9 Selfs al bly daar net tien mans oor van een familie wanneer die vyand hulle aanval, sal hulle ook doodgemaak word.
10 Wanneer iemand van hulle familie die lyk kom haal om dit te gaan verbrand en hy vra vir iemand wat agter in die huis wegkruip of daar nog enigiemand anders in die huis oor is, sal dié persoon sê: ‘Nee, ek is die laaste.’ Hy sal vir die man wat die lyk kom haal het, waarsku. Hy sal sê: ‘Saggies! Die Here moenie hoor hier is nog iemand oor nie.’
11 Die Here sal opdrag gee dat elke huis, van die grootste tot die kleinste, platgeslaan word. Daar sal net murasies oorbly.”
12 Kan perde oor rowwe rotse galop? Kan ’n mens die see met osse omploeg? Natuurlik nie! Maar julle het reggekry wat ander mense nie kan doen nie. Julle het van dit wat goed en reg is iets giftigs gaan maak. Wat regverdig was, het julle iets gemaak wat verkeerd is.