1 Ek het die Here by die altaar sien staan. Hy het gesê: “Slaan die bokante van die pilare stukkend sodat die hele gebou tot in sy fondamente inmekaarstort. Laat die gebou instort op al die mense wat binne-in die tempel is. Dié wat bly leef, sal Ek in die oorlog laat doodmaak. Nie een sal kan wegvlug nie. Daar sal nie een vrykom nie.
2 Al grawe hulle ’n gat tot onder waar die dooies bly om daar weg te kruip, sal hulle nie kan wegkom nie. Ek sal hulle met my eie hand daar gaan uithaal. Al kry hulle dit reg om tot bo in die hemel te klim, sal Ek hulle daar gaan uithaal.
3 Al gaan kruip hulle weg op die top van die Karmelberg, sal Ek hulle daar gaan haal en hulle dwing om af te kom. Al probeer hulle hulleself vir my wegsteek onder in die see, sal Ek die seeslang stuur om hulle daar te gaan pik.
4 Selfs al gaan hulle weg na ’n ander land, selfs al vat die vyand hulle baie ver weg, sal hulle nie van My af kan wegkom nie. Selfs daar sal Ek hulle laat doodmaak. Ek hou hulle dop om met hulle af te reken. Hulle kan nie van My af wegkom nie.”
5 Wanneer die Here, die God wat baie sterk is, selfs net saggies aan die aarde raak, skud die hele aarde. Almal wat daarop woon, begin treur. Alles kom aan die beweeg soos wanneer die Nyl met geweld afkom en ’n spoor van verwoesting agterlaat wanneer dit weer terugsak na waar dit vroeër was.
6 Die Here bou vir Hom ’n solder bo in die hemel. Hy maak sy kelder onder op die aarde. Hy roep die see bymekaar en Hy giet reën uit oor die aarde. Sy Naam is “Die Here”.
7 “Dink die Israeliete dat hulle vir My belangriker is as die Etiopiërs?” vra die Here. “Ek het wel Israel uit Egipte laat wegtrek. Maar Ek het net so die Filistyne uit Kreta laat kom en die Siriërs uit Kir.”