14 Ek het gekom om vir jou te kom verduidelik wat in die toekoms met jou volk gaan gebeur, want ook hierdie is ’n visioen oor die toekoms.”
15 Toe hy dit vir my sê, het ek net sprakeloos na die grond bly staar.
16 Die engel wat soos ’n mens gelyk het, het toe sy hand uitgesteek en aan my mond geraak. Daarna kon ek weer praat en ek het vir hom gesê: “Weet u, die visioen het my so ontstel dat ek nog steeds lam van die skok is.
17 Watter reg het ek, wat maar net ’n doodgewone mens is, om met so ’n belangrike figuur soos u te praat? Ek het so geskrik dat ek skaars kan asemhaal.”
18 Hierdie engel het toe weer ’n keer aan my geraak en ek kon voel hoe my kragte terugkom.
19 Toe sê hy vir my: “Moenie bang wees nie, God het jou lief! Ontspan net, dit sal goed gaan met jou. Jy hoef vir niks bang te wees nie!”Dit het my beter laat voel en ek sê toe vir hom: “U kan nou maar praat, want ek voel sommer baie beter.”
20 Hy sê toe vir my: “Verstaan jy nou waarom ek na jou toe gekom het? Ek moet binnekort teruggaan om teen die beskermengel van Persië te veg. Nie lank daarna nie sal die beskermengel van Griekeland ook op die toneel verskyn.