2 “Wat ek jou nou gaan vertel, is die waarheid. Daar gaan nog drie konings oor Persië regeer. Na hulle kom daar ’n vierde koning, wat baie ryker as die ander gaan wees. Sy rykdom sal hom baie invloedryk maak en hy sal dit gebruik om al die ander wêreldmagte op te sweep om teen Griekeland in opstand te kom.
3 Dan sal ’n dapper koning op die toneel verskyn. Hy sal oor ’n groot en magtige ryk regeer en doen net wat hy wil.
4 Maar net sodra hy dink dat hy in beheer is, sal sy koninkryk uitmekaarskeur en in vier dele verdeel word. Dit sal nie sy kinders wees wat oor hierdie koninkryke regeer nie. Sy magtige ryk sal soos ’n boom ontwortel word en vir ander gegee word om op ’n ander plek te plant. Daarom sal dit nooit weer so magtig wees soos sy ryk nie.
5 “Die koning van die suide sal ’n magtige koning wees, maar een van sy generaals sal nog magtiger as hy word en selfs oor ’n nog groter koninkryk as hy regeer.
6 Later sal die koning van die noorde ’n ooreenkoms aangaan met die koning van die suide. Dan sal die koning van die noorde met die koning van die suide se dogter trou. Ongelukkig sal sy en haar pa hulle invloed oor hom verloor. Uiteindelik sal sy, haar pa, haar man en al haar volgelinge doodgemaak word.
7 Nie lank daarna nie sal een van haar familielede koning word. Hy sal hom gereedmaak vir oorlog teen die koning van die noorde en hom verslaan.
8 Hy sal hulle afgodsbeelde en hulle kosbare skatte van silwer en goud saam met hom terugvat Egipte toe. Vir ’n paar jaar sal daar weer vrede wees,