2 Hy laat roep toe sy towenaars, toekomsvoorspellers, besweerders en sterrevoorspellers om vir hom te kom sê wat hy gedroom het. Toe hulle voor hom staan,
3 sê hy vir hulle: “Ek het ’n droom gehad wat my baie omkrap. Ek wil nou by julle weet wat dit beteken.”
4 Die sterrevoorspellers het in Aramees vir die koning gesê: “Lank lewe die koning! As u net vir ons sê wat u gedroom het, sal ons vir u presies kan sê wat dit beteken.”
5 Maar die koning antwoord hulle: “Kyk, ek het besluit julle moet vir my sê wat ek gedroom het en wat dit beteken. As julle dit nie kan doen nie, sal ek julle stadig laat doodmaak en julle huise sal verwoes word sodat die mense wat daar verbyloop, sal dink dis ’n ashoop.
6 Aan die ander kant, as julle wel vir my kan sê wat ek gedroom het en wat dit beteken, sal ek julle vereer en vir julle baie geskenke gee. Dit is mos eenvoudig: al wat ek wil hê, is dat julle vir my moet sê wat ek gedroom het en wat dit beteken.”
7 Hulle sê toe weer vir die koning: “Asseblief, U Majesteit, vertel ons net wat u gedroom het, dan verduidelik ons vir u wat dit beteken.”
8 “Dis nes ek gedink het!” het Nebukadnesar gebulder. “Julle is besig om vir tyd te speel omdat julle weet ek is ernstig oor wat ek gesê het.