28 Maar daar is ’n God in die hemel wat geheime bekend kan maak. Hy het in die droom aan u, koning Nebukadnesar, kom wys wat in die toekoms gaan gebeur. Daarom sal ek nou vir u vertel wat die gesig beteken wat u in u droom gesien het.
29 “Terwyl U Majesteit geslaap het, het u oor die toekoms gedroom. God wat sulke geheime bekend kan maak, het vir u gewys wat in die toekoms gaan gebeur.
30 Nou, die rede waarom ek u droom kan uitlê, is nie omdat ek slimmer is as enige ander mens nie, maar omdat God wou hê dat u moet weet wat die betekenis van die droom was. U moet verstaan waaroor u gedink het.
31 “U Majesteit het in u droom ’n groot beeld gesien wat voor u staan. Dit was hoog en blink; iets skrikwekkends.
32 Die beeld se kop was van soliede goud; sy bors en arms van silwer en sy maag en heupe van brons;
33 sy bene was van yster. Sy voete was een deel van yster en ’n ander deel van klei gemaak.
34 Terwyl u nog so na die beeld kyk, het ’n rots op ’n bonatuurlike manier van die berg af losgebreek en teen die voete van yster en klei vasgerol en hulle totaal verwoes.