41 Maar u het gesien dat die voete en tone van die beeld in u droom gedeeltelik van klei en gedeeltelik van yster was. Dit beteken dat hierdie koninkryk ook in homself verdeeld sal wees.
42 Sommige dele sal so sterk soos yster wees en ander weer so swak soos klei, soos dit maar in so ’n mengsel gebeur.
43 U het ook gesien dat die yster en die klei gemeng was. Dit beteken dat die regeerders van hierdie koninkryk hulle koninkryk sal probeer verenig deur met mekaar te ondertrou. Dit sal nie werk nie, net so min as wat yster en klei kan meng.
44 Tydens hierdie konings se regering sal die God van die hemel ’n koninkryk laat ontstaan wat nooit vernietig sal word nie. Niemand sal hierdie koninkryk kan oorwin nie, maar dit sal al die ander koninkryke vernietig totdat dit alleen oorbly vir altyd.
45 Dit is die betekenis van die rots wat op ’n bonatuurlike wyse van die berg losgekom en die beeld van yster, brons, klei, silwer en goud totaal verwoes het. Die magtige God het vir u kom wys wat in die toekoms gaan gebeur. Die droom is waar en my verduideliking hiervan is ook die waarheid.”
46 Hierna het koning Nebukadnesar diep voor Daniël gebuig en hom met groot respek behandel. Die koning het ook beveel dat daar ’n graan- en ’n wierookoffer vir hom gebring moes word.
47 Toe sê die koning vir Daniël: “Jou God is die grootste van al die gode, Hy regeer oor al die konings en Hy maak geheime bekend. Ek sê dit omdat Hy hierdie geheim aan jou bekendgemaak het.”