44 Tydens hierdie konings se regering sal die God van die hemel ’n koninkryk laat ontstaan wat nooit vernietig sal word nie. Niemand sal hierdie koninkryk kan oorwin nie, maar dit sal al die ander koninkryke vernietig totdat dit alleen oorbly vir altyd.
45 Dit is die betekenis van die rots wat op ’n bonatuurlike wyse van die berg losgekom en die beeld van yster, brons, klei, silwer en goud totaal verwoes het. Die magtige God het vir u kom wys wat in die toekoms gaan gebeur. Die droom is waar en my verduideliking hiervan is ook die waarheid.”
46 Hierna het koning Nebukadnesar diep voor Daniël gebuig en hom met groot respek behandel. Die koning het ook beveel dat daar ’n graan- en ’n wierookoffer vir hom gebring moes word.
47 Toe sê die koning vir Daniël: “Jou God is die grootste van al die gode, Hy regeer oor al die konings en Hy maak geheime bekend. Ek sê dit omdat Hy hierdie geheim aan jou bekendgemaak het.”
48 Die koning het Daniël vereer en hom met duur en mooi geskenke oorlaai. Hy het hom aangestel as regeerder oor die hele provinsie Babel en hom ook hoof gemaak van al die koning se raadgewers.
49 Op Daniël se versoek is Sadrag, Mesag en Abednego in beheer geplaas van die administrasie van die provinsie Babel. Daniël self het in die paleis gebly.