26 Die feit dat die engel die opdrag gegee het dat die stomp moet bly staan, beteken dat u weer u koninkryk sal terugkry sodra u geleer het dat die God van die hemel oor alles heers.
27 U Majesteit, luister asseblief na my! Breek met u sonde deur te doen wat reg is en goed te wees vir die armes. Wie weet of u voorspoed nie dalk kan aanhou nie.”
28 Maar al hierdie dinge het wel met koning Nebukadnesar gebeur.
29 Twaalf maande later, terwyl hy op die daktuin van sy paleis in Babel rondgeloop het,
30 het hy oor die stad uitgekyk en gesê: “Kyk net watter asemrowende stad is Babel! Deur my eie mag en krag het ek hierdie hoofstad gebou om vir die wêreld te wys hoe groot en belangrik ek is.”
31 Sy woorde was nog nie behoorlik koud nie, toe sê ’n stem uit die hemel: “Koning Nebukadnesar, so is besluit: jou koninkryk word nou van jou af weggevat.
32 Jy gaan uit die gemeenskap weggedryf word sodat jy saam met die wilde diere in die veld sal leef en gras sal eet soos ’n bees, sewe jaar lank. Dan sal jy erken dat die allerhoogste God oor al die aardse koninkryke heers en dat Hy dit kan gee aan wie Hy wil.”