28 Maar al hierdie dinge het wel met koning Nebukadnesar gebeur.
29 Twaalf maande later, terwyl hy op die daktuin van sy paleis in Babel rondgeloop het,
30 het hy oor die stad uitgekyk en gesê: “Kyk net watter asemrowende stad is Babel! Deur my eie mag en krag het ek hierdie hoofstad gebou om vir die wêreld te wys hoe groot en belangrik ek is.”
31 Sy woorde was nog nie behoorlik koud nie, toe sê ’n stem uit die hemel: “Koning Nebukadnesar, so is besluit: jou koninkryk word nou van jou af weggevat.
32 Jy gaan uit die gemeenskap weggedryf word sodat jy saam met die wilde diere in die veld sal leef en gras sal eet soos ’n bees, sewe jaar lank. Dan sal jy erken dat die allerhoogste God oor al die aardse koninkryke heers en dat Hy dit kan gee aan wie Hy wil.”
33 Dit het dadelik gebeur. Nebukadnesar is uit die gemeenskap weggejaag en hy het gras geëet soos ’n bees. Elke nag het die dou hom sopnat gedou. Sy hare het naderhand so lank geword dat dit op sy skouers gehang het en sy naels het soos die kloue van ’n voël gelyk.
34 “Aan die einde van die sewe jaar het ek, Nebukadnesar, na die hemel toe opgekyk. Toe het my verstand weer na my toe teruggekeer. Dadelik het ek die allerhoogste God wat vir altyd lewe, geloof en sy Naam grootgemaak. Ek het gesê: Hy regeer vir ewig. Sy heerskappy sal nooit tot ’n einde kom nie.