7 Al die towenaars, toekomsvoorspellers, sterrevoorspellers en besweerders het toe na my toe gekom. Ek het vir hulle vertel wat ek gedroom het, maar nie een van hulle kon dit vir my verklaar nie.
8 Uiteindelik het Daniël, ook genoem Beltsasar na die naam van my god, na my toe gekom. Die Gees van die heilige God is in hom en ek het vir hom van my droom vertel.
9 Ek het vir hom gesê: Hoofraadgewer Beltsasar, ek weet dat die Gees van die heilige God in jou is en dat daar nie ’n geheim is wat jy nie kan verklaar nie. Kom ek vertel jou wat ek gedroom het, dan verklaar jy dit vir my.
10 “Ek het hierdie visioen in my slaap gehad: ek het ’n groot boom in die middel van die aarde sien staan.
11 Hierdie boom het al hoe groter en sterker geword totdat die top daarvan naderhand aan die hemel geraak het en die hele wêreld dit kon sien.
12 Sy blare was dig en lowergroen en daar was soveel vrugte aan die boom dat daar genoeg was vir almal om van te eet. Die wilde diere het in die skaduwee van die boom kom lê en rus en die voëls het in sy takke nes gemaak. Almal het van die boom se vrugte geëet.
13 Terwyl ek nog so lê en droom, het ek ’n hemelse wese, ’n opsigter uit die hemel, sien kom.