17 Daniël het geantwoord: “Hou gerus maar u geskenke vir uself of gee dit vir iemand anders. Ek sal in elk geval vir U Majesteit lees wat daar geskryf staan en wat dit beteken.
18 Die allerhoogste God het u vader, Nebukadnesar, ’n magtige en beroemde koning gemaak en aan hom groot eer gegee.
19 Hy was so magtig dat mense van alle volke, nasies en taalgroepe met vrees en bewing van hom gepraat het. Hy het doodgemaak wie hy wou en laat leef wie hy wou. Net so het hy ook besluit wie hy wou eer en wie hy wou verneder.
20 Ongelukkig het hy toe te vol van homself geword. Daarom is hy van sy troon afgesit en het hy al sy eer verloor.
21 Die menslike samelewing het hom verwerp en hy het soos ’n dier geword. Hy het saam met die wildedonkies gebly en gras geëet soos ’n bees. Hy het in die oop veld geslaap sonder enige beskerming teen die dou, totdat hy besef het dat die allerhoogste God in beheer is van al die koninkryke van die wêreld en dat Hy besluit wie regeer.
22 “Ten spyte daarvan dat u al hierdie dinge geweet het, Belsasar, het u ook te veel van uself gedink.
23 Trouens, u het die Here van die hemel uitgedaag deur u sondes. U het die goue en silwerbekers uit sy tempel as wynbekers gebruik vir u en u hooggeplaastes en u vroue en byvroue. Verder het u nog heildronke daaruit gedrink op al u afgode van silwer, goud, brons, yster, hout en klip, gode wat nie kan sien, hoor of selfs vir hulleself kan dink nie. Maar aan die God wat u laat lewe en wat oor u lewe en u toekoms beskik, het u geen eer gegee nie!