3 Hulle het die goue en silwerbekers gaan haal en die koning en al sy gaste het daaruit gedrink.
4 Hulle het ook heildronke gedrink op al hulle afgode van goud, silwer, brons, yster, hout en klip.
5 Skielik het daar ’n mensehand verskyn wat op die gepleisterde muur van die paleis begin skryf het, op die plek waar die lamplig die helderste geskyn het. Die koning self het ook die hand sien skryf.
6 Hy het doodsbleek geword van skrik. Sy knieë het letterlik begin bewe van vrees.
7 Hy was so bang dat hy op sy mense geskree het om dadelik die towenaars, fortuinvertellers en sterrevoorspellers te gaan roep. Toe hulle inkom, sê hy vir hulle: “Vir die een wat kan lees wat hier geskryf staan en vir my kan sê wat dit beteken, wag daar ’n beloning. Ek sal vir hom ’n koninklike kleed gee om aan te trek en ’n goue ketting om om sy nek te dra. Hy sal saam met my regeer as die persoon met die derde meeste gesag in die koninkryk.”
8 Al sy raadgewers het hulle bes probeer, maar nie een van hulle kon die skrif lees of die boodskap daarvan uitlê nie.
9 Koning Belsasar was angsbevange. Sy hooggeplaaste gaste was so uit die veld geslaan dat hulle nie geweet het wat om te doen nie.