6 Hy het doodsbleek geword van skrik. Sy knieë het letterlik begin bewe van vrees.
7 Hy was so bang dat hy op sy mense geskree het om dadelik die towenaars, fortuinvertellers en sterrevoorspellers te gaan roep. Toe hulle inkom, sê hy vir hulle: “Vir die een wat kan lees wat hier geskryf staan en vir my kan sê wat dit beteken, wag daar ’n beloning. Ek sal vir hom ’n koninklike kleed gee om aan te trek en ’n goue ketting om om sy nek te dra. Hy sal saam met my regeer as die persoon met die derde meeste gesag in die koninkryk.”
8 Al sy raadgewers het hulle bes probeer, maar nie een van hulle kon die skrif lees of die boodskap daarvan uitlê nie.
9 Koning Belsasar was angsbevange. Sy hooggeplaaste gaste was so uit die veld geslaan dat hulle nie geweet het wat om te doen nie.
10 Die koning se ma het die lawaai gehoor wat die koning en sy gaste gemaak het. Sy stap toe die eetsaal binne en sê: “Lank lewe die koning! U Majesteit, moet tog nie so ontsteld en bang wees oor hierdie saak nie.
11 Daar is ’n man hier in die ryk in wie die Gees van die heilige God is. Toe jou pa nog regeer het, het almal geweet dat hierdie man sy gesonde verstand kon gebruik en dat hy baie slim was. Dit was amper of hy self ’n god was. Jou pa, koning Nebukadnesar, het hom as hoof oor al die towenaars, fortuinvertellers, sterrevoorspellers en besweerders aangestel.
12 Hy het ’n flink brein met ’n buitengewone vermoë om drome te kan uitlê, probleme op te los en moeilike sake uit te sorteer. Laat roep vir Daniël, vir wie jou pa die naam Beltsasar gegee het. Hy sal vir jou kan sê wat die skrif teen die muur beteken.”