17 Die koning moes toe maar die opdrag gee om Daniël te arresteer en in die leeukuil te gooi. Hy sê toe vir Daniël: “Mag jou God wat jy so getrou dien, jou red.”
18 Hulle het ’n klip gaan haal en dit oor die opening van die plek gesit waar die leeus was. Daarna het die koning sy amptelike seël en ook dié van sy hooggeplaaste amptenare op die klip aangebring. So is Daniël se lot beseël.
19 Die koning is terug paleis toe, waar hy ’n slapelose nag deurgebring het, sonder kos of enige ander tydverdryf.
20 Vroeg die volgende môre het die koning opgestaan en vinnig na die leeukuil toe gegaan.
21 Daar aangekom, het hy benoud geroep: “Daniël, dienaar van die lewende God! Was jou God wat jy so getrou dien, in staat om jou van die leeus te red?”
22 Daniël antwoord toe: “Mag die koning nog lank lewe!
23 My God het sy engel gestuur om die leeus se bekke toe te hou sodat hulle my niks kon aandoen nie. Hy het dit gedoen omdat Hy weet dat ek onskuldig is. Ek het nie teen Hom gesondig nie en ook niks verkeerds teen U Majesteit gedoen nie.”