1 Darius, die seun van Ahasveros, was ’n Mediër, maar hy het koning geword van die Babiloniërs.
2 Tydens sy eerste jaar as koning het ek die Woord van die Here bestudeer. Ek het toe gesien dat volgens die Woord van die Here soos Hy dit deur die profeet Jeremia laat opteken het, Jerusalem vir 70 jaar ’n verlate stad moes wees.
3 Daarom het ek met gebed en smeking voor die Here God gaan staan. Ek het glad nie geëet nie, rouklere aangetrek en as op my kop uitgegooi as teken van my opregtheid.
4 Toe het ek tot die Here my God gebid en bely: “O Here, U is ’n groot en verskriklike sterk God! U kom altyd u beloftes na teenoor die mense wat U liefhet en doen wat U van hulle verwag.
5 Maar ons het sonde gedoen en die pad byster geraak. Ons het in opstand teen U gekom en die rug vir u opdragte en reëls gedraai.
6 Ons het geweier om te luister na u boodskappers wat in u Naam met ons konings, ons leiers, ons voorouers en die hele volk gepraat het.
7 Here, U doen altyd wat reg is, maar ons is heeltyd besig om skandes te maak. Ons almal doen dit, dié wat in Juda en Jerusalem bly, maar ook dié wat U oor die hele wêreld verstrooi het omdat hulle nie na U wou luister nie.