3 Enigeen wat aan die Here se volk behoort, mag nou teruggaan na Jerusalem in Juda toe om te gaan help om die tempel vir die Here te bou. Die Here is die God van Israel. Hy bly in Jerusalem. Mag die Here saam met elkeen wees wat bereid is om terug te gaan.
4 Die ander mense wat saam met hulle op dieselfde plek bly, moet die Judeërs help wat wil teruggaan. Hulle moet vir die mense wat teruggaan, die silwer en goud en diere en vee gee wat hulle gaan nodig kry om God se tempel in Jerusalem te bou.”
5 ’n Hele klomp leiers uit die families van Juda en Benjamin het besluit om terug te gaan. Daar was ook priesters en mense uit die familie van Levi wat by God se huis kon werk, en wou teruggaan. Hulle wou almal teruggaan om die tempel van die Here in Jerusalem te help bou. Die Here het hulle oorreed om te gaan.
6 Hulle bure het hulle ondersteun. Hulle het vir hulle dinge gegee wat van silwer en goud gemaak was. Hulle het ook vir die mense wat wou teruggaan, kos en vee gegee, soos Kores gesê het. Hulle het daarby nog vir hulle allerhande geskenke gegee van goed wat hulle kon gebruik.
7 Koning Kores het die goed laat haal wat Nebukadnesar destyds uit die Here se tempel in Jerusalem weggevat het om dit in sy eie god se tempel te sit.
8 Persië se koning Kores het dit eers vir Mitredat gegee. Hy was die minister van finansies van Persië. Mitredat het ’n lys gemaak van alles wat daar was. Hy het toe die lys vir Sesbassar gegee. Sesbassar was die leier van die groep wat sou teruggaan Juda toe.
9 Op die lys het die volgende gestaan: 30 bakke van goud; 1 000 bakke wat van silwer gemaak is; 29 ander bakke;