1 Terwyl Esra op sy knieë voor die tempel gestaan en bid en huil het en sy volk se skuld bely het, het ’n groot klomp mense om hom begin saamdrom. Daar was mans en vroue en kinders. Hulle het kliphard saam met Esra gehuil.
2 Een van hulle, Sekanja seun van Jegiël uit die nageslag van Elam, het vorentoe gekom. Hy het vir Esra gesê: “Ons was nie getrou aan ons God toe ons met vroue uit die ander volke getrou het nie. Maar daar is miskien nog hoop vir Israel. Ons kan hierdie saak nog regmaak.
3 Kom ons belowe die Here dat ons al hierdie vroue en die kinders wat ons by hulle het, na hulle mense toe sal laat teruggaan. Dié onder ons wat die Here se wette ken, moet ons help en vir ons sê hoe ons moet maak.
4 Jy moet die voortou neem. Doen wat gedoen moet word dat ons dit reg kan doen. Ons sal agter jou staan.”
5 Esra het toe so gemaak. Hy het die leiers van die priesters en die Leviete en die hele Israel laat sweer dat hulle so sal maak. Hulle het dit baie ernstig vir die Here belowe.
6 Esra is van die tempel af weg na die blyplek van Joganan die seun van Eljasib toe. Hy het die nag daar gebly. Hy het egter niks geëet of gedrink nie. Hy het getreur oor al die mense wat teruggekom het en nie aan die Here getrou gebly het nie.
7 Almal in Jerusalem en Juda wat deur die jare teruggekom het, moes in Jerusalem bymekaarkom.