8 Die leiers van die priesters het besluit dat elkeen wat nie binne drie dae in Jerusalem opdaag nie, alles sal verloor wat hy besit. Hy sou ook nie langer as ’n Judeër beskou word nie.
9 Op die derde dag, dit was die twintigste van die negende maand, was al die mans wat in Juda en Benjamin bly, in Jerusalem. Hulle het op die plein voor die tempel van God bymekaargekom. Hulle het gestaan en bewe. Aan die een kant was hulle gespanne oor wat gaan gebeur. Aan die ander kant was dit koud en het dit aanhoudend gereën.
10 Esra het met hulle gepraat. Hy het gesê: “Julle het nie getrou gebly aan die Here nie. Julle het met vroue van ander volke gaan trou. Julle het daardeur Israel se skuld by God net nog meer gaan maak.
11 Luister nou na die Here. Respekteer die God van julle voorouers. Doen wat Hy van julle vra. Hou julle eenkant van die ander volke in die land. Stuur die heidense vroue met wie julle getrou het, terug na hulle eie mense toe.”
12 Almal wat daar was, het toe geantwoord en hardop gesê: “Goed, ons sal doen wat jy vir ons sê!”
13 Daar het ook ’n voorstel gekom: “Ons is baie mense hier bymekaar. Dit reën aanmekaar. Ons kan nie die hele tyd hier buite in die reën bly staan nie. Hierdie ding kan ook nie binne ’n dag of twee klaargemaak word nie. Daar is baie van ons wat aan hierdie oortreding skuldig is.
14 Gee vir ons leiers die opdrag om hierdie saak af te handel. Elkeen wat met ’n vreemde vrou getrou het, kan ’n afspraak maak met die leiers en regters van sy dorp. Dan kan hy die saak saam met hulle afhandel. Op hierdie manier kan ons die Here se woede oor die saak laat ophou.”