1 In daardie tyd was daar twee mans wat in Jerusalem en Juda God se boodskap gebring het. Die een was Haggai. Die ander was Iddo se seun Sagaria.
2 Hulle boodskappe het Serubbabel seun van Sealtiël en Jesua seun van Josadak aangevuur om weer die tempel van God in Jerusalem te begin bou. Hierdie mans van God het hulle hande sterk gemaak om dit te doen.
3 Tattenai was in daardie stadium die goewerneur van Wes-Eufraat. Hy het Setar-Bosnai en ander amptenare saam met hom Jerusalem toe gevat en met die Judeërs gaan praat. Hy het vir hulle gevra: “Wie het gesê julle mag aangaan om die tempel te bou en te probeer klaarmaak?”
4 Hulle wou ook weet wat die name was van die mans wat aan die hoof was van die bouwerk.
5 Maar God het die leiers van die Judeërs beskerm. Hy het gesorg dat die amptenare hulle toelaat om aan te gaan met die bouery terwyl hulle gewag het vir ’n antwoord op die brief wat hulle vir koning Darius geskryf het.