13 Goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en die ander ampsdraers het Darius se wet na die letter uitgevoer.
14 Die Here se boodskappers Haggai en Iddo se seun Sagaria het hulle moed ingepraat. Die leiers van Juda het flink gevorder met die bouwerk. Uiteindelik het hulle die opdrag klaargemaak wat hulle van die God van Israel en van die Persiese konings Kores, Darius en Ahasveros gekry het.
15 Die bouwerk aan die tempel is afgehandel op die derde dag van die maand Adar in die sesde jaar wat Darius koning was.
16 Die priesters en die Leviete en al die Israeliete wat uit die ballingskap teruggekom het, was baie bly om die tempel te begin gebruik.
17 Toe hulle die tempel ingewy het, het hulle altesaam 100 bulle, 200 ramme en 400 lammers geoffer. Hulle het ook ’n offer gebring vir die sonde. Hulle het vir elkeen van die twaalf families van Israel ’n bokram geoffer.
18 Hulle het die priesters en die Leviete in verskillende groepe ingedeel om hulle werk in die tempel van God in Jerusalem te doen, volgens die voorskrifte van Moses.
19 Die Judeërs wat teruggekom het, het op die veertiende dag van die eerste maand paasfees gehou.