4 Na elke drie lae bouklip moet daar houtbalke in die mure gesit word. Die geld wat nodig is om die tempel te bou moet uit die staat se geld kom.
5 Alles van goud en silwer wat Nebukadnesar uit die tempel in Jerusalem weggevat het na Babel toe, moes teruggegee word sodat hulle weer na hulle regte plek in die tempel in Jerusalem kan teruggaan.
6 Darius het teruggeskryf:Tattenai, goewerneur van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en al die ander Persiese amptenare van Wes-Eufraat, julle moet daardie mense met rus laat.
7 Moenie hulle gaan pla en gaan inmeng met die bouery aan die huis van God nie. Laat die goewerneur van Juda en sy leiers toe om die huis van hulle God op sy ou plek te bou.
8 Ek maak ook nou ’n nuwe wet. Julle moet die Judese leiers help om die tempel vir hulle God te bou. Julle moet uit die belasting wat in Wes-Eufraat betaal word, vir hulle geld gee sodat hulle met die werk kan aangaan en dit kan klaarmaak.
9 Julle moet elke dag vir die priesters in Jerusalem alles gee wat hulle nodig het om vir die God van die hemel te offer. Daar moenie te min bulle, ramme en lammers, koring, sout, wyn of olie wees nie.
10 Hulle moet vir die God van die hemel alles kan offer wat Hy wil hê. Hulle moet vir my en my seuns bid dat die Here ons voorspoedig sal maak.