9 Julle moet elke dag vir die priesters in Jerusalem alles gee wat hulle nodig het om vir die God van die hemel te offer. Daar moenie te min bulle, ramme en lammers, koring, sout, wyn of olie wees nie.
10 Hulle moet vir die God van die hemel alles kan offer wat Hy wil hê. Hulle moet vir my en my seuns bid dat die Here ons voorspoedig sal maak.
11 Ek maak ook ’n wet dat enigiemand wat nie met my opdrag wil saamwerk nie, aan ’n houtbalk wat uit sy eie huis kom, opgehang moet word. Sy huis moet ’n ashoop gemaak word.
12 Mag die God wat Jerusalem as die plek vir sy tempel gekies het, elke koning of volk vernietig wat skade aan daardie tempel in Jerusalem probeer aanrig. Ek, Darius, het persoonlik hierdie wet gemaak. Dit moet presies net so gedoen word.
13 Goewerneur Tattenai van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en die ander ampsdraers het Darius se wet na die letter uitgevoer.
14 Die Here se boodskappers Haggai en Iddo se seun Sagaria het hulle moed ingepraat. Die leiers van Juda het flink gevorder met die bouwerk. Uiteindelik het hulle die opdrag klaargemaak wat hulle van die God van Israel en van die Persiese konings Kores, Darius en Ahasveros gekry het.
15 Die bouwerk aan die tempel is afgehandel op die derde dag van die maand Adar in die sesde jaar wat Darius koning was.