16 Jy moet ook al die geld wat jy by mense in die provinsie van Babel kan insamel, saam met jou vat. Ook die geskenke van die volk en van die priesters vir die tempel van God in Jerusalem moet saam met jou gaan.
17 Jy moet versigtig met hierdie geld werk. Koop die bulle, ramme en lammers, en alles wat nodig is vir die offers wat julle bring. Koop ook wat nodig is vir die ander offers waarvan julle ’n deel daar by die tempel mag eet en drink. Gaan offer dit alles op die altaar in julle God se tempel in Jerusalem.
18 Met die goud en silwer wat daarna oor is, kan jy en jou volk maak soos julle dink dit die wil van julle God is.
19 Alles wat vir jou gegee is wat spesifiek vir die tempel van jou God bedoel was, moet jy presies net so vir jou God in Jerusalem gaan gee.
20 As daar nog iets verder vir die huis van God nodig is, mag jy dit op die rekening van die staat koop.
21 Ek, koning Artasasta, het aan al die amptenare in Wes-Eufraat wat met die ryk se geld werk, opdrag gegee om aan Esra, die priester en kenner van die wet van die God van die hemel, te gee wat hy vra.
22 Hy mag tot 3 500 kilogram silwer, 10 000 kilogram graan, 2 000 liter wyn, 2 000 liter olyfolie en ’n onbeperkte hoeveelheid sout aanvra.