23 Ons het daarom maar onsself in God se hand gegee en op Hom vertrou. Hy het ons gehoor en ons beskerm.
24-25 Ek het Serebja en Gasabja en tien van die ander priesters gekies. Ek het vir hulle die geld en die ander goed vir die tempel gegee dat hulle dit kon oppas. Dit was die geskenke wat die koning, sy raadgewers en sy amptenare en al die Israeliete wat in die ballingskap agtergebly het vir die tempel van ons God in Jerusalem gestuur het.
26 Ek het dit geweeg en vir hulle gegee. Dit was 22 ton silwer, items wat van silwer gemaak was wat saam 68 kilogram geweeg het, items van goud wat ook 68 kilogram geweeg het,
27 twintig bakke wat van goud gemaak was wat agt en ’n half kilogram geweeg het en twee items van suiwer koper wat net soveel werd soos goud was.
28 Ek het vir die twaalf mans gesê: “Julle is afgesonder vir die Here, die God van ons voorouers. Hierdie goed behoort aan die Here. Die silwer en die goud is vir die Here geskenk.
29 Julle moet daarna kyk en dit goed oppas sodat julle dit presies net so kan gee vir die hoof van die priesters en die Leviete en die leiers van Israel in Jerusalem. Hulle sal dit in die kamers van die tempel in Jerusalem wegbêre.”
30 Die priesters en die Leviete het toe die silwer en die goud en die items vir die tempel gevat en die verantwoordelikheid op hulle geneem om dit Jerusalem toe te vat en te sorg dat dit in die tempel van ons God kom.