1 Nadat ons hiermee klaar was, het die leiers na my toe gekom. Hulle het vir my kom sê dat baie van die Israeliete wat in die land agtergebly het, selfs van die priesters en die Leviete, nie hulleself eenkant gehou het van die ander volke in die land nie. Hulle het nie weggebly van die vreeslike dinge wat daardie mense vir hulle afgode doen nie. Hulle het selfs gaan trou met Kanaäniete, Hetiete, Feresiete, Jebusiete, Ammoniete, Moabiete, Egiptenaars en Amoriete.
2 Van daardie volke het weer met Israeliete getrou. God se volk het deurmekaargeraak met die heidense volke wat saam met hulle in die land bly. Veral die leiers en die priesters het hulle hieraan skuldig gemaak.
3 Ek was so geskok toe ek hiervan hoor dat ek my klere begin skeur het en die hare uit my kop en baard gepluk het asof ek gehoor het van iemand wat dood is. Ek het verslae op die grond gaan sit.
4 Almal vir wie die Here se wet belangrik was, het oorbluf rondom my kom staan. Hulle was ook geskok dat die mense wat al vroeër teruggekom het, nie aan die Here getrou was nie. Ek was egter te stomgeslaan om nog iets te sê. Ek het maar net so bly sit tot dit tyd geword het vir die aandoffer.
5 Toe dit tyd was vir die offer wat aan die einde van die dag gebring word, het ek opgestaan van waar ek gesit en treur het. Ek het op my knieë neergesak en my hande na die Here my God uitgesteek.
6 Ek het gebid: “My God, ek is te oorbluf en te skaam om U in die oë te kyk. Ons oortreding is so groot dat dit oor ons almal se kop gaan. Ons skuld is hemelhoog.
7 Van die tyd van ons voorouers af tot vandag toe het ons aangehou om teen U te oortree. Oor ons sonde het ons en ons konings en priesters in die hande van die konings van die wêreld beland. Hulle het ons met oorlog afgemaai, ons gevang en ons weggevoer nadat hulle ons land geplunder het. Ons het in hierdie skande beland waarin ons vandag nog is.