Esra 9:7-13 DB

7 Van die tyd van ons voorouers af tot vandag toe het ons aangehou om teen U te oortree. Oor ons sonde het ons en ons konings en priesters in die hande van die konings van die wêreld beland. Hulle het ons met oorlog afgemaai, ons gevang en ons weggevoer nadat hulle ons land geplunder het. Ons het in hierdie skande beland waarin ons vandag nog is.

8 “Vir ’n kort tydjie was die Here ons God goed vir ons. Hy het vir ’n klompie van ons wat oorgebly het, hier by sy tempel weer moed laat skep. Ons God het ons weer hoop laat kry en laat asemskep na ons swaarkry.

9 Ons God het ons nie weggegooi toe ons slawe in ander lande was nie. Hy het die Persiese konings se hart teenoor ons goed gemaak sodat hulle vir ons die kans gegee het om die tempel van ons God weer te kom bou, sy mure weer regop te kry. Ons het gevoel of ons weer vastrapplek in Juda en Jerusalem het.

10 “Maar wat kan ons nou sê, ons God? Ons was al weer ongehoorsaam aan wat U van ons vra.

11 U het ons deur u boodskappers gewaarsku dat die land waarin ons gaan bly, vol is van verkeerde dinge. Die volke wat in die land gebly het, het die land vuil gemaak met die gode wat hulle aanbid en die lelike dinge wat hulle vir die gode doen.

12 Ons moes onder geen omstandighede met hulle trou nie. Ons moes hulle nooit help om aan te gaan met die verkeerde dinge nie. Ons moes vir hulle oppas sodat ons self die goeie dinge van die land kon geniet en die land vir altyd aan ons en ons kinders kon behoort.

13 Na alles wat met ons gebeur het oor die verkeerde dinge wat ons gedoen het en die sondes wat ons gedoen het, besef ons, Here, dat U Uself moet terughou om ons nie vir ons sondes te straf soos ons eintlik verdien nie. Ten spyte van alles het U selfs gesorg dat daar ’n klompie van ons is wat vandag nog oorgebly het.