9 Ons God het ons nie weggegooi toe ons slawe in ander lande was nie. Hy het die Persiese konings se hart teenoor ons goed gemaak sodat hulle vir ons die kans gegee het om die tempel van ons God weer te kom bou, sy mure weer regop te kry. Ons het gevoel of ons weer vastrapplek in Juda en Jerusalem het.
10 “Maar wat kan ons nou sê, ons God? Ons was al weer ongehoorsaam aan wat U van ons vra.
11 U het ons deur u boodskappers gewaarsku dat die land waarin ons gaan bly, vol is van verkeerde dinge. Die volke wat in die land gebly het, het die land vuil gemaak met die gode wat hulle aanbid en die lelike dinge wat hulle vir die gode doen.
12 Ons moes onder geen omstandighede met hulle trou nie. Ons moes hulle nooit help om aan te gaan met die verkeerde dinge nie. Ons moes vir hulle oppas sodat ons self die goeie dinge van die land kon geniet en die land vir altyd aan ons en ons kinders kon behoort.
13 Na alles wat met ons gebeur het oor die verkeerde dinge wat ons gedoen het en die sondes wat ons gedoen het, besef ons, Here, dat U Uself moet terughou om ons nie vir ons sondes te straf soos ons eintlik verdien nie. Ten spyte van alles het U selfs gesorg dat daar ’n klompie van ons is wat vandag nog oorgebly het.
14 “Hoe kan ons dan nou weer kom en doen wat U uitdruklik gesê het ons nie moet doen nie? U het duidelik gesê dat ons nie met hierdie volke moet trou nie en nie deurmekaar moet raak met die afskuwelike dinge wat hulle vir die afgode doen nie. Dit is niks minder nie as billik as U nou so kwaad vir ons gaan word dat U ons klompie wat oor is, wil uitroei.
15 “Here, God van Israel, U is regverdig. U was baie genadig om die klompie van ons tot vandag toe te laat oorbly. Maar, Here, ons is skuldig. Eintlik kan niemand van ons dit waag om nog voor U te kom ná dit wat ons gedoen het nie.”