10 Op 18 Desember 520 v.C., weer in die tweede jaar wat Darius koning was, het die Here nog ’n opdrag vir Haggai gegee.
11 Hy moes na die priesters toe gaan met ’n probleemvraag en hulle moes die antwoord gee.
12 Die probleem was die volgende: “Sê nou maar iemand dra ’n stuk vleis wat aan die Here geoffer is in sy jas en hy raak per ongeluk met sy jas aan ander kos, soos brood, gekookte kos, wyn of olie, of enige ander soort kos. Sal dit dan beteken dat hierdie ander kos nou ook aan die Here toegewy is soos dit die geval met die vleis is?”Die priesters het nie getwyfel nie en het geantwoord: “Nee.”
13 Toe vra Haggai verder: “As iemand besmet is omdat hy aan ’n lyk gevat het en hy raak nou aan al hierdie kos wat genoem is, is die kos dan nou ook vuil?”Die priesters se antwoord op die vraag was: “Ja.”
14 Toe het Haggai begin verduidelik wat die Here wou hê sy volk moet verstaan. Hy het gesê: “Die mense is vuil en besmet. My volk is vuil en besmet. Alles wat hulle doen en waaraan hulle raak, is besmet.”
15 “Van vandag af moet julle bly onthou hoe dit in die verlede gegaan het. Voordat julle begin bou het aan die huis van die Here, het niks volgens plan verloop nie.
16 Van die verwagte koringoes is net die helfte ingesamel. Dit het ook nie beter gegaan met die wynoes nie. Minder as die helfte van die verwagte hoeveelheid wyn is gekry.