11 Die winter is weg en al die reëns is verby.
12 Oral staan die veldblommetjies in bloei en oral begin die voëls sing. Selfs die tortels hoor ’n mens al koer.
13 Die eerste vye is ryp en die eerste trossies hang in die wingerd. Oral is daar net die geur van wingerd en van veld. Kom, my liefste, staan gou op en kom saam met my.
14 Jy is soos ’n duifie wat in ’n rotsskeur skuil. Laat my gou weer net jou gesiggie sien en jou stemmetjie hoor. Hoe lieflik is die klank van jou stem tog, en hoe mooi jou gesig.
15 Vang die klein jakkalsies, vang hulle gou voor hulle die wingerd van ons liefde verwoes.
16 My liefling is myne en ek is syne. Hy is weer weg om sy vee tussen die lelies te laat wei.
17 Eers as die aandwind opsteek en die skadu’s verdwyn, kom hy weer terug. Kom, my liefling, kom gou weer soos ’n jong bokkie en ’n bergbok oor die ruwe berge na my.