1 Hier volg die Here se boodskap aan sy volk deur Joël, die seun van Petuel.
2 Luister hierna, leiers van die volk! Maak oop julle ore, inwoners van die land! Het julle al ooit so iets in julle geskiedenis beleef?
3 In die jare wat kom, moet julle dit vir julle kinders vertel. Hierdie aaklige verhaal moet van geslag tot geslag oorvertel word.
4 Die een swerm sprinkane na die ander het in julle oeste ingevaar. Wat die een swerm gelos het, het die volgende een verwoes. Hulle het aangehou om in julle oeste in te vlieg totdat hulle alles opgevreet het.
5 Word wakker en huil, julle klomp dronklappe! Al die druiwe waarmee julle nuwe wyn wou maak, is verwoes. Huil oor die wyn wat julle nie meer sal drink nie, julle spul wynsuipers!
6 ’n Groot sprinkaanplaag het ons land getref; hulle is verskriklik sterk, te veel om te tel. Hulle tande is vlymskerp soos dié van ’n leeu.
7 Hulle het ons wingerde verwoes en al ons vyebome opgevreet. Hulle het selfs die bas van die jong lote afgevreet. Net die kaal, wit stamme het oorgebly.