2 “Gaan sê vir die groot stad Nineve dat Ek hulle gaan straf. Hulle sonde is so groot dat dit al aan die hemel raak.”
3 Jona het die Here se opdrag probeer ontduik. Hy het weg van Nineve af in die teenoorgestelde rigting na Tarsis toe gevlug. Hy het afgegaan na die hawe in Joppe. Daar het hy ’n skip gehaal wat na Tarsis toe sou vaar. Hy het die reisgeld betaal en op die skip geklim om saam met hulle soontoe te vaar. Hy het van die Here af probeer wegkom.
4 Maar die Here self het ’n baie sterk wind oor die see laat opsteek. ’n Yslike storm het op die see losgebars. Dit het gelyk of die skip uitmekaar gaan breek.
5 Die matrose het bang geword en gedink dat die skip gaan sink. Elkeen het sy god gesoebat dat hy hulle nie sal laat doodgaan nie. Hulle het selfs van die vrag op die skip in die see gegooi om die skip ligter te maak. Jona het onder in die skip gelê en slaap.
6 Die skip se kaptein gaan toe na hom toe en vra vir hom: “Hoe kan jy in hierdie storm lê en slaap? Staan dadelik op. Bid ook tot jou god. Miskien sal daardie god hom aan ons steur en keer dat ons vergaan.”
7 Die matrose het toe onder mekaar besluit om lootjies te trek. So sou hulle kon agterkom wie die oorsaak van die groot storm was. Hulle het lootjies getrek. Jona se naam is getrek.
8 Hulle het hom toe begin uitvra: “Sê vir ons, wat het jy dan gedoen dat hierdie storm oor ons losgebars het? Wat doen jy vir ’n lewe? Van watter land af kom jy? Aan watter volk behoort jy?”