5 Die matrose het bang geword en gedink dat die skip gaan sink. Elkeen het sy god gesoebat dat hy hulle nie sal laat doodgaan nie. Hulle het selfs van die vrag op die skip in die see gegooi om die skip ligter te maak. Jona het onder in die skip gelê en slaap.
6 Die skip se kaptein gaan toe na hom toe en vra vir hom: “Hoe kan jy in hierdie storm lê en slaap? Staan dadelik op. Bid ook tot jou god. Miskien sal daardie god hom aan ons steur en keer dat ons vergaan.”
7 Die matrose het toe onder mekaar besluit om lootjies te trek. So sou hulle kon agterkom wie die oorsaak van die groot storm was. Hulle het lootjies getrek. Jona se naam is getrek.
8 Hulle het hom toe begin uitvra: “Sê vir ons, wat het jy dan gedoen dat hierdie storm oor ons losgebars het? Wat doen jy vir ’n lewe? Van watter land af kom jy? Aan watter volk behoort jy?”
9 Hy sê toe vir hulle: “Ek is ’n Hebreër. Ek aanbid die Here, die God van die hemel. Dit is Hy wat die see en die land gemaak het.”
10 Die matrose het verskriklik bang geword. Hulle het geweet dat hy van die Here af probeer wegkom het. Jona het vir hulle vertel dat die Here hom na Nineve toe gestuur het en dat hy nie wou gaan nie. Hulle het vir hom gevra: “Hoe op aarde kan jy so iets doen?”
11 Die storm het al erger geword. Hulle vra toe vir Jona: “Wat moet ons met jou maak, dat hierdie storm kan bedaar?”