2 Hy het toe só vir die Here gesê: “Ag genade tog, Here, is dit nie presies wat ek vir myself gesê het toe ek nog by die huis was nie? Is dit nie hoekom ek aan die begin maar liewer na Tarsis toe wou vlug nie? Ek het voor my siel geweet U is die God wat mense vergewe en hulle jammer kry. U is geduldig met hulle en gee vir hulle om. U kry altyd later spyt as U besluit het om hulle te verwoes.
3 Laat my tog nou maar liewer doodgaan, Here. Dit is beter as ek nie verder bly lewe nie.”
4 Die Here vra hom toe: “Het jy die reg om vir my kwaad te word?”
5 Jona is toe uit die stad uit. Hy het oos van die stad vir hom ’n skerm gaan maak sodat hy daaronder in die skaduwee kon sit. Hy het daar gaan sit om te kyk of daar iets met die stad gaan gebeur.
6 Die Here God laat toe ’n wonderplant opkom. Dit het ’n skaduwee oor Jona gegooi wat dit vir hom baie gemakliker gemaak het. Jona was baie bly oor die wonderplant.
7 Maar die volgende oggend toe die son opkom, stuur God ’n wurm. Hy het aan die plant begin vreet en dit het veroorsaak dat die plant doodgaan.
8 Die son het al warmer geword. Soos die dag vorder, het God ’n skroeiende warm wind uit die ooste laat waai. Die son het so warm op Jona gebrand en hom so gedaan gemaak dat hy naderhand gewens het dat hy tog maar liewer dood was. Hy sê toe weer soos hy gesê het: “Dit is beter as ek nie verder lewe nie.”