3 Esau het Ek aan homself oorgelaat, al was hy Jakob se broer. Daarom is sy bergland vandag soos ’n kaal vlakte en is dit nie sy kinders wat daar bly nie, maar net ’n klomp woestynjakkalse.
4 Sy kinders daar in Edom sou natuurlik kon sê: “Al lyk dit nou sleg, ons sal weer voor begin!” Vir hulle sê Ek, die God vir wie niks onmoontlik is nie, julle kan soveel huise bou as wat julle wil, dit sal nooit ’n stad word nie. Om die waarheid te sê, julle sal eerder op ’n bynaam genoem word: die goddelose dorp en mense vir wie die Here vir altyd kwaad is.
5 Julle sal dit met julle eie oë sien en dan sal julle nie anders kan nie as om te sê: “Maar die Here is in beheer selfs tot anderkant Israel se grense.”
6 ’n Kind respekteer tog sy pa en ’n werknemer sy hoof. Julle noem My julle Vader en julle Here, maar waar is die eer en respek wat Ek dan moet kry? Dit wil Ek, wat die Grootkoning is, by julle weet, priesters, want julle maak My belaglik voor die mense. En tog vra julle ewe onskuldig: “Wanneer het ons U ooit belaglik gemaak?”
7 Kyk ’n bietjie na die soort offers wat julle vir My bring. Julle gee nie om hoe hierdie offers lyk nie. En dan vra julle nog: “Wanneer het ons U nie gerespekteer nie?” Deur nie te bring wat Ek wil hê nie, is net so goed as om jou neus vir My op te trek en te sê: “Vat wat jy kry.”
8 Is daar niks mee verkeerd as julle ’n blinde of ’n lam of ’n siek dier vir My kom offer nie? Probeer ’n bietjie so iets met julle goewerneur en kyk hoe baie hy daarvan gaan hou.
9 Tog hou julle aan vra dat Ek, die Here, vir julle goed moet wees, maar solank julle so aangaan, sal Ek nie julle gebede verhoor nie, en dis net julle eie skuld.