9 Tog hou julle aan vra dat Ek, die Here, vir julle goed moet wees, maar solank julle so aangaan, sal Ek nie julle gebede verhoor nie, en dis net julle eie skuld.
10 Ek wens iemand wil liewer die tempel se deur toesluit. Dan kon julle ten minste nie al hierdie nuttelose offers vir My bring nie. Ek is nie beïndruk met wat julle doen nie. Moenie dink dat Ek maar met enigiets tevrede moet wees nie. Onthou, Ek is die Here, die enigste God.
11 Mense oor die hele wêreld eer My. Die offers wat hulle vir My bring, is aanvaarbaar, want hulle bedoel dit uit die hart uit. Op hierdie manier bewys hulle dat hulle respek het vir My as die Here aan wie alles behoort.
12 Julle optrede is sonder respek. Julle nooi My as ’n gas, maar dit waarmee julle die tafel vir My dek, is goed wat julle self nie eens wil hê nie.
13 En dan trek julle nogal die neus vir My op en sug oor hoe moeilik dit is om die Here tevrede te stel. Gaan kyk ’n bietjie wat bring julle vir My as offers: gesteelde, lam en siek diere; dis mos nie aanvaarbaar nie.
14 As iemand belowe het om vir My die beste te gee wat hy het en hy kom dan later daar aan met iets minderwaardigs, moet hy weet dit sal baie swaar met hom gaan. Want Ek laat My nie bedrieg nie. Ek is die Grootkoning, die Here aan wie alles behoort. Die volke van die wêreld het respek vir My.