4 Dan sal julle dalk verstaan dat dit Ek is, die God wat nooit op sy woord teruggaan nie, wat vir julle hierdie waarskuwing gestuur het sodat die ooreenkoms wat Ek met Levi gemaak het, kan voortgaan.
5 In hierdie ooreenkoms het Ek belowe dat Ek hom lank sal laat lewe en dat Ek elke dag sal toesien dat hy versorg is en niks nodig het nie sodat hy sy werk vir My rustig en sonder bekommernis kan doen. Van my kant af het Ek die ooreenkoms nagekom en hy het respek en eer aan My bewys.
6 Wat hy die mense geleer het, was die waarheid, want hy het dit by My gehoor. Omdat hy nie bang was om die waarheid reguit te praat nie, het dit baie mense laat besluit om My te dien en nie meer sonde te doen nie.
7 ’n Priester moet die mense kan leer wie en wat God is, dis sy werk. Hy moet ’n voorbeeld wees van hoe my kinders My moet dien, want hy is die verteenwoordiger van die Here, die Grootkoning.
8 Ongelukkig, priesters, kon dit nie van julle gesê word nie. Julle het baie mense mislei omdat julle hulle verkeerd geleer het. So het julle ’n streep deur my ooreenkoms met Levi getrek.
9 Daarom gaan Ek julle voor julle eie mense in die verleentheid bring en sonder eer los. Die rede daarvoor is in die eerste plek omdat julle nie na My wou luister nie, maar julle eie kop gevolg het. En in die tweede plek het julle nie almal gelyk behandel nie, maar julle het kant gekies vir dié wat agteraf vir julle omkoopgeskenke gegee het.
10 Is ons nie almal een Pa se kinders nie? Het dieselfde God ons nie gemaak nie? Hoekom breek julle God se ooreenkoms met ons voorouers deur mekaar so te belieg en te bedrieg?