7 Julle is net soos julle voorouers. Hulle het ook die rug vir My gedraai en nie gedoen wat Ek van hulle gevra het nie. Wil julle nie omdraai en weer terugkom na My toe nie? Ek wil graag weer my hande na julle toe uitsteek en julle terugvat. Maar nou vra julle: “Hoekom moet ons terugkom as ons nog nooit weg was nie?”
8 Sê nou vir My: Is dit reg om van God te steel? Natuurlik nie, maar tog steel julle van My! Moet nou nie so verbaas lyk en vra: “Wanneer het ons van U gesteel?” nie. Waar is die tiendes en die dankoffers wat julle moet bring sodat die gemeente die mense wat dit nodig het, daarmee kan versorg?
9 Dit is die rede waarom dit so swaar gaan met julle, want die hele volk is besig om van My te steel.
10 Bring julle volle tiende na die tempel se stoorkamers toe sodat daar genoeg kan wees om dié wat nie vir hulleself kan sorg nie te help. Probeer dit en kyk wat gebeur. As julle dit doen, sal julle sien dat julle my hande wat agter my rug vasgemaak was, losgemaak het, en dan sal Ek weer vir julle kan sorg na die beste van my vermoë.
11 Ek sal sorg dat julle lande weer goeie oeste het en julle wingerde se druiwe volop sal wees, sê die Here van die oorvloed.
12 Julle land sal so ’n wonderlike plek wees dat die mense van die ander lande sal sê: “Kyk hoe seën die Here hulle.”
13 Julle sê lelike goed oor My wat My baie seermaak, sê die Here. En nou wil julle weet: “Wat het ons gesê wat so verkeerd is?”