1 “Hoor hier wat sê die Here: ‘Staan op en begin om jou saak te stel. Die berge en die heuwels sal as getuies in die saak luister na wat jy te sê het.’
2 Berge, julle wat die vaste fondament van die aarde is, luister na die aanklag van die Here teen sy volk. Hy maak ’n saak teen Israel.
3 Die Here vra vir Israel: ‘My volk, wat meen julle het Ek aan julle gedoen wat nie reg is nie? Waarmee het Ek julle opgesaal dat julle so moedeloos is? Antwoord My!
4 Ek het julle gehelp om uit Egipte pad te gee en vry mense te wees. Ek het daarvoor gesorg dat julle nie langer slawe in Egipte is nie. Ek het Moses, Aäron en Mirjam julle leiers gemaak.
5 Onthou julle nie wat koning Balak van Moab teen julle beplan het nie? Hy wou hê Bileam moes julle vervloek, maar in plaas daarvan het hy julle net goeie dinge toegewens. En verder, onthou julle nie wat alles gebeur het vandat julle van Sittim af getrek het totdat julle uiteindelik by Gilgal aangekom het nie? Dit is belangrik dat julle dit sal onthou, want dit sal julle daaraan herinner dat Ek lojaal aan julle is.’
6 “Julle vra: ‘As ’n mens nou na die offerplek toe gaan om die Here as God te vereer, wat moet ons saamvat? Sal ’n jaaroud kalf die regte offer wees om die verkeerde dinge wat ons gedoen het, reg te maak?