1 Die Here se straf oor Nineve. Nahum kom van die dorp Elkos af. Wat nou volg, is wat die Here wou hê hy vir Juda moes sê.
2 Die Here hou niks daarvan dat mense ander gode aanbid nie. Dit maak Hom baie kwaad. Daarom straf Hy mense wat teen Hom in opstand kom. Hy wreek Hom ook op sy teëstanders deur hulle te straf.
3 Die Here word nie gou kwaad nie, maar dit beteken nie dat sy mag nie groot is nie. Hy laat nie mense wat verkeerde dinge doen, wegkom nie. Nee, Hy straf hulle. Hy gebruik winde wat warrel en storms wat kwaai woed om te wys dat Hy baie mag het. Dit wys die Here is daar. Die wolke wat saamdrom, lyk dan soos stof wat sy voete opskop.
4 Hy wys ook sy mag deur net ’n opdrag te gee en die see en die riviere droog op. Hy laat ook die groen weiding op groot berge droog word en op ander berge weer laat Hy die bloeisels verwelk.
5 As die berge begin bewe en die heuwels wegsmelt, weet ’n mens duidelik die Here bestaan. Dit is soos ’n aardbewing wat die aarde en sy mense skud.
6 ’n Mens kan vra of enigiemand sal kan oorleef as Hy kwaad is. Dit is nie speletjies as Hy kwaad is nie. Sy woede is so erg, dit is soos ’n vuur wat rotse laat bars en in stukke breek.