24 Die hoofde van die Leviete was Gasabja, Serebja en Jesua die seun van Kadmiël. Tydens die lofprysing-en-aanbiddingsessies het hulle kollegas regoor hulle gestaan volgens Dawid, die man van God, se voorskrif.
25 Dit was Mattanja, Bakbukja, Obadja en Mesullam.Talmon en Akkub was die hekwagte wat in bevel was van die voorraadkamers by die hekke.
26 Hierdie mense het in die tyd van Jojakim die seun van Jesua, die kleinseun van Josadak, en in die tyd van die goewerneur Nehemia en die skrifgeleerde priester Esra diens gedoen.
27 Met die inwyding van die nuwe muur van Jerusalem is die Leviete van oor die hele land gevra om te kom help met die feesviering. Hulle moes as deel van die feesviering dankliedere sing en musiek maak met hulle simbale, harpe en liere.
28 Die sangers het uit die omgewing rondom Jerusalem gekom uit die dorpies Netofa
29 en Bet-Gilgal. Ander het uit die boerderygemeenskappe van Geba en Bet-Asmawet gekom, want die sangers het vir hulleself dorpies rondom Jerusalem gebou.
30 Die priesters en die Leviete het eers hulleself voor die Here skoongemaak. Daarna het hulle die volk, die hekke en die muur skoongemaak.